Dr. Elizma van der Smit clinical psychologist                      

Therapy for Individuals, Families and Couples                                                                                                     

       The Time Has Come!!! It is time to be better!!

Die effek van trek op ‘n kind

Deur Elizma van der Smit


Byna elke gesin ervaar die effekte van trek êrens in hul lewens.  Die effek van so iets op die kinders varieer in intensiteit afhangende van hul persoonlikhede.  Dit maak nie saak of ons ongewonde of hartseer oor die trek is nie, dit bly geweldig stresvol en gaan ‘n gemengde klomp gevoelens veroorsaak. Dr. Arlen Fulton, van die Ohio State University (2002) noem dat kundiges trek sien as een van die mees stresvol en ontwrigtingde dinge in ‘n kind se lewe.

 

Wat is die moontlike effek van trek op ‘n kind?


  • Hou ingedagte dat die kind nie beheer oor die trek het nie en aangesien hy magteloos daaroor staan, ervaar hy ook die meeste stres daaroor.
  • Terwyl die ouer fokus op die praktiese en logistieke aspekte van die trek, fokus die kind op die verliese wat hy/sy lei soos die verlies aan maatjies, my gunsteling speelplek, my veiligheid.

  • Indien daar negatiewe omstandighede aan die trek gekoppel is soos byvoorbeeld egskeiding, geldprobleme, die verlies van ‘n familielid of na ‘n ramp soos brand – is die effekte ook baie meer negatief op die kind.

  • Hoe meer ‘n gesin trek, hoe groter die negatiewe gevolge soos byvoorbeeld die onvermoë on sinvolle verhoudings aan te knoop.

  • Kinders kan post traumatiese stres ontwikkel weens die gevoel van magteloosheid en gebrek aan veiligheid.  Laasgenoemde veroorsaak o.a. onttrekking, “flashbacks” en nagmerries.

  • Aangesien ‘n trek vir die ouers ook stresvol is, kan die kind die ouers sien huil, baklei of stres oor die basiese gevolge van trek, maar die kind kan hierdie dinge interpreter as sy/haar skuld en is dan bang om ook hartseer of kwaad te wees en daarom sal hul ook nie hulp vra of hul gevoelens wys nie indien dit die ouer dalk meer kan ontstel.

  • Die “nuwe-kind” sindroom in ‘n skool kan aanleiding gee tot boelie, eensaamheid, angstigheid en isolasie.

  • Jonger kinders kan dalk begin om hul duim te suig, bed nat te maak, babataal te gebruik en skeidingsangs te ervaar.

  • Ouer kinders kan dalk weier om te eet, slapeloosheid ervaar, skaam en teruggetrokke word of woedeuitbarstings kry.

  • Skoolgaande kinders kan veranderinge in slaappatrone ervaar, maagpyn of hoofpyn kry en sukkel om te konsentreer.

  • Die tiener verstaan wel die trek, maar die verlies aan vriende/geliefde (wat die belangrikste aspek in hul lewe is), kan hul laat voel dat hul hele lewe inmekaar tuimel.

  • As ‘n kind skielik begin jok of steel (of ander snaakse gedrag toon) is dit ‘n aanduiding van ‘n stresreaksie.

  • ‘n Tydperk van 6 weke vir aanpassing is normaal.  Moenie te haastig wees nie.
  • ‘n Daling in punte is ook algemeen en normaal.

 

Hoe om die aanpassing te vergemaklik?


  • Begin baie vroeg met ‘n kind praat oor die beplande trekkery om hul genoegsaam tyd te gee om aan die idee gewoond te raak.  Vertel hul genoeg van hul nuwe huis en omgewing en gaan wys dit ook gereeld vir hul.

  • Gebruik ouderdomstoepaslike taal en doen moeite met elke vraag wat ‘n kind vra.
  • Al het jy die trek verduidelik en hul voorberei, verstaan jou kind nie regtig wat dit alles behels nie en sal hy staatmaak op voorspelbaarheid en sy konneksie met jou as ouer om hom veilig te laat voel.

  • Probeer dus die voorbereiding van ‘n trek meer konkreet maak soos byvoorbeeld ‘n pophuis te skuif na ‘n ander gedeelte van die huis en trek al die meubels.  Speel dan sekere scenario’s uit van wat gewoonlik met ‘n trek gebeur.  Lees ook boeke daaroor.
  • In die warboel van ‘n trekkery is ouers dikwels te moeg en het hul nie energie om dadelik ‘n roetine te vestig nie.  Roetine is egter belangrik vir kinders om veilig te voel.

  • Maak hul deel van die inpak en oplaai sowel as die afpakkery.

  • Maak hul deel van die proses deur te help kies aan meubels/verfkleur of die mooimaak van hul kamers.  Moenie nuwe beddegoed koop as die kind dit nie wil hê nie – sy oues laat hom dalk veilig voel.

  • Maak ‘n boks vol herhinneringe van die ou huis.  Bêre daarin blare of klippe of fotos of enigeiets wat die kind aan sy ou huis sal herhinner.  Hou ingedagte dat ‘n kind dikwels dink as hy iets nie sien nie is dit “weg vir ewig”.

  • Wanneer jy hul goedjies in bokse pak, verduidelik dat dit na die nuwe huis geneem word en dat dit nie weggegooi word nie.

  • Moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie byvoorbeeld dit gaan “lekker wees” en Wagter kan saamgaan (terwyl daar dalk nie plek vir honde is nie).
  • Probeer om nie dadelik nuwe meubels/beddegoed te koop nie.  Die ou bekende goed sal hul veiliger laat voel.

  • Maak seker dat die kinders se kamers die heel eerste is wat uitgesorteer moet word.

  • Baie kinders sal natuurlik met woede reageer.  Gesels met hul daaroor, help hul ontslae raak van die woede deur te speel of ander aktiwiteite soos tekeninge.

  • Hartseer is normaal en kommunikeer dit aan hul.  Bly gerus by hul in die kamer totdat hul slaap om hul sodoende veiliger te laat voel.  Onthou, sy konneksie met jou is die belangrikste faktor hier.

  • Moenie jou kind se gevoelens oor die trek onderskat nie en maak seker dat jy daarop ingestel is.  Probeer dit van jou kind se perspektief verstaan.

  • Praat met jou kind deurentyd om hom te help verstaan wat gebeur en bevestig dat sy gevoelens normaal en toepaslik is.  “ag nee man, dis nie so erg nie, dit gaan lekker wees!” gaan dus nie werk nie.

  • Ouers moet hul eie gevoelens oor die trek deel en effektief prosesseer.
  • Kinders benodig ook dan goeie kos en nagrus.  Sorg dat ten minste een ouer altyd by hul is om vrae te antwoord en hul veilig te laat voel.  Jy kan hul op trekdag dalk by ouma aflaai tot alles uitgesorteer is.

  • Doen baie moeite met die soek van ‘n nuwe skool.  Maak die kind deel daarvan.  Vra uit oor skole vir mense wat reeds lank daar woon, vra kinders uit.  Gee soveel as moontlik inligting vir jou kind oor sy nuwe skool en gaan wys hom waar sy klas en juffrou gaan wees en stel hul voor.

  • Doen moeite met maaitjies.  Besoek openbare plekke (soos spur of basaars) waar hul met ander kinders kan speel en kennis kan maak.

  • Skryf hul in vir ‘n buitemuurse klas waar hul ook makliker gaan kontak maak met kinders wat ‘n soortgelyke belangstelling het (soos karate of dans).  Vra bure se kinders om te kom speel indien moontlik.  Om in te skakel by ‘n kerk kan ook baie help.

  • Trek kan ook positief vir ‘n gesin wees, mits dit reg hanteer word.  Dit kan jul as gesin baie nader aan mekaar bring, jy leer jou kind beter ken en laasgenoemde kan meer onafhanklik raak – iets wat sy selfbeeld versterk.  Dit is natuurlik ook ‘n proses wat almal baie belangrike lewensvaardighede aanleer (byvoorbeeld aanpasbaarheid en deursettingsvermoë, kommunikasie en sosiale vaardighede) wat hul nog baie nodig gaan hê in die toekoms!