Dr. Elizma van der Smit clinical psychologist                      

Therapy for Individuals, Families and Couples                                                                                                     

       The Time Has Come!!! It is time to be better!!

Die terugvind van vreugde en geluk

 

Deur Elizma van der Smit    B.A., B.A. Honns.,M.A. Klin. Psig. (PU vir CHO), M.Phill (PPL) (RAU)

 

  1. 1.        Baie mense is depressief, maar besef dit nie.  Is dit so?

Dit is definitief my ervaring in praktyk dat mense deesdae baie swaar kry en dat gevoelens van vervuldheid en geluk verseker afgeneem het.  Ek dink die hedendaagse leefstyl  stel meer eise aan die individu en is ook baie vinniger!  Ons het dus nie die tyd om aan belangrike goed te spandeer nie.  Die geslagsrevolusie het natuurlik ook ‘n invloed, vroue werk en versorg gesinne en die mans is nie meer noodwendig die leier in verdienste en status nie. Ongelukkigheid en moedeloosheid it is egter nie dieselfde as kliniese depressie nie.  Laasgenoemde word gediagnoseer wanneer die gevoel van wanhoop so erg is dat jy nie meer normaal kan funksioneer nie.  Selfmoordgedagtes is kenmerkend hiervan.  Ingeval van kliniese depressie kan jy verseker nie alleen uit die gat klim nie en is medikasie  en terapie noodsaaklik vir genesing.

 

  1. 2.       Is mense deesdae meer depressief of ongelukkig as paar jaar gelede?  Het ons vinnige leefstyl ‘n invloed daarop?

Volgens Prof. Stephen Ilardi van die Universiteit van Kansas (2009)kan die toename in depressiewe simptome verseker toegeskryf word aan ons modern leefwyse.  ‘n Eeu terug was die voorkoms van depressive maar 1%.  Ons staan nou reeds op 23% en die voorkoms van depressie het verdubbel in die laaste dekade!  Die menslike wese is maar net nie ontwerp vir die pas van die modern leefstyl nie.  Ons is ontwerp vir ‘n ander tydgleuf – ‘n tyd waar mense fisies aktief was en die grootste gedeelte van die dag buite in die son spandeer het!  Verhoudinge met vriende en familie was baie sterk en het baie tyd geniet.  Mense was ook nie so geisoleerd soos nou nie en het ook ‘n totaal verskillende dieet gehad.  Hul het meer geslaap en nie soveel verskillende eise ervaar nie.  Die hedendaagse gebrek aan sonlig en slaap, ons kitsdieet, sosiale isolasie en fisiese onaktiwiteit veroorsaak dus verseker ‘n verhoging in depressie simptome.

 

  1. 3.       Hou mens se energievlakke verband met jou vreugde?  Hoekom?

Vreugde en energievlakke hou direk verband op mekaar.  Verhoog jou energie en jou vreugde sal verhoog en andersom.  Volgens Reubin (2007) word dit  bevestig deur navorsing.

‘n Grootskaalse studie onder student het getoon dat 4 eienskappe belangrik is vir geluk: assertiwiteit, avontuurlistigheid, praatsamigheid en energievlakke.  Energievlakke was egter die sterkste indicator van geluk.  Die verduideliking daarvoor is eenvoudig, wanneer jy meer energie het, kan jy makliker al die dinge doen wat jou gelukkig maak.  Dit is makliker om te oefen, of om jou humeur te beteuelen dit is makliker om ander mense te help!

 

  1. 4.       Watter dinge slurp jou vreugde in die lewe op?

Volgens Lee (2007) is daar 5 dinge wat jou energie maklik opslurp.  Dit sluit in 1. “clutter”.  Deur elke dag in jou deurmekaar huis of kantoor vas te kyk en na alles te soek is verseker iets wat onnodige energie steel. 2.  Roetine.  Om elke dag dieselfde ding te doen en dieselfde mense te sien vreet aan jou energie.3. Gebrek aan slaap. 4.  Dehidrasie en swak dieet. 5. Gebrek aan oefening.  Volgens Babauta (2010) is televisie, email en internet, mixit, twitter, vergaderings, telefone, te veel verpligtinge, onproduktiewe verhoudings ook welbekende dinge wat jou energie sal opslurp.

 

  1. Wat kan jy doen om jou vreugde terug te vind?

Geluk beteken verskillende dinge vir verskillende mense.  Hiervolgens is egter 10 kritiese faktore betreffende geluk. 

1.  Identifiseer jou primere waardes en beginsels en leef daarvolgens.    As jy leef teenstrydig met jou waardes gaan jy nooit gelukkig wees nie.  Byvoorbeeld ‘n pa vir wie gesin ‘n belangrike waarde is sal nooit gelukkig kan wees as hy te min by sy gesin is nie.

2.  Neem aksie en moenie laat vrees of besluiteloosheid in jou pad staan nie.  Werk deur jou negatiewe issues en bou jou selfvertroue.  Geluk is harde werk!

3.  Stel doelwitte.  Maak nie saak hoe klein jou doelwitte is nie, maar stel dit en werk hard daaraan om dit te bereik.  Moenie net lewe volgens ander se verwagtinge nie.  AS jy in Kaapstad wil uitkom, moet jy jou roete beplan en ‘n padkaart volg!  Doelwitte is jou padkaart!

4.  Wees dankbaar vir alles wat jy het.  “Happiness is not having what you want, but wanting what you have!

5.  Leer voortdurend.  As jy vandag iets leer is jy reeds beter as wat jy gister was!  Stel belang in nuwe dinge en vergroot jou perspektief.

6.  Handhaaf goeie gesondheid deur dieet en oefening.  Luister ook na wat jou liggaam vir jou se!

7.  Beinvloed ander mense positief.  Jy kan nie ander mense help sonder om jouself te help nie!

8.  Droom groot.  Hou altyd ingedagte dat dit moontlik is om jou drome te verwesenlik..

9.  Vat ‘n breuk!  Ons word so maklik vasgevang in die lewe dat ons uitbrand.  Identifiseer jou behoeftes en neem die tyd om dit te vervul. 

10.  Beweeg vorentoe.  Wees versigtig na wie jy luister op ‘n daaglikse basis.  Spandeer tyd met mense wat waarde toevoeg tot jou lewe en jou nie dreineer nie.  Om vorentoe te beweeg is om niemand toe te laat om jou te stop nie.


  1. Wat dink jy is nodig om gelukkig te wees?

Soos my kollega van Klerksdorp (Lizelda Goslin) dit beskryf:  ‘n mens is soos ‘n plant.  Om ordentlik te groei en vrugte te dra, moet mens baie aandag gee aan die plant.  Jy moet hom water gee, bemesting, onkruid verwyder, snoei en dan heelwat later sal jy vrugte kry.  Geluk is die vrugte, maar voor jy geluk kan ervaar moet jy baie hard werk.  Jy moet werk aan jou verhoudings en persoonlike issues bv as jy nie assertief is nie, ontwikkel dit en as trauma onkruid in jou lewe veroorsaak, gaan sien iemand wat jou kan help om dit te verwerk.  Vreugde le nie in die vrugte nie, maar in die versorging van die plant.  Wanneer jy die plant versorg, dan SAL hy vrugte dra maar dit is nie die doel nie.  Die doel is om ‘n gesonde sterk plant te kweek!  Doelwitte is hoe jy die plant versorg en die visie is die vrugte wat jy wil dra.  Spandeer tyd om uit te vind wat jou passie is en stel doelwitte om daar uit te kom!