Dr. Elizma van der Smit clinical psychologist                      

Therapy for Individuals, Families and Couples                                                                                                     

       The Time Has Come!!! It is time to be better!!

HET JY ‘N GUNSTELING KIND?

Deur Elizma van der Smit

 

Is daar iets soos gunsteling kinders?  Hoe algemeen is dit en wat veroorsaak dat ek meer van my een kind hou as die ander een?

 

Bogenoemde is eintlik ‘n baie algemene fenomeneem. ‘n Britse studie het getoon dat 62% van ouers ‘n gunsteling kind het. Die Amerikaanse wetenskaplike Jeffrey Kluger het in 2011 in sy boek getiteld “The Sibling Effect: What the Bonds Between Brothers and Sisters Reveal About Us”, genoem dat alle ouers ‘n gunsteling kind het en die wat noem dat hul nie het nie, jok!

 

Redes waarom ouers gunsteling kinders het sluit in:

 

  • Ouers is geneig om die “maklike” kind voor te trek en die “moeilike” een voel dikwels dat hy/sy nie dieselfde aandag kry nie. Ouers wil nie altyd sukkel of voel dat hulle op eiers loop rondom ‘n kind nie.  Dis menslik om altyd die weg van die minste weerstand te kies!
  • As ‘n kind voorbeeldig is en” luister” laat dit ‘n ouer goed voel oor homself.  Hul is dan ook soms geneig om “sagter” te wees teenoor die voorbeeldige een en ook om ‘n voorbeeld te maak van die soet kind, maw “as jy so soet soos sussie is, sal ek jou ook so behandel”.  (dit het natuurlik nooit die gewenste effek nie)
  • Soms sukkel een van ons kinders met ‘n probleem soos ‘n gebrek van een of ander aard.  Of dalk het ons baie gesukkel om ons kind te kry of aan die lewe te hou. Dan is ons beskermingsdrang in hoogste rat en probeer on sons kind beskerm en oorkompenseer ons vir wat hy/sy deurgemaak het of nooit sal kan he nie, dikwels ten koste van die ander kinders.
  • Ons mooiste of talentvolste kinders kan ook dikwels meer van ons aandag ontvang omdat hul ons laat goed voel en ons trots op hulle is.
  • Ouderdom kan ook ‘n rol speel byvoorbeeld ek is meer geheg aan my kleintjie omdat hy my nog nodig het of ek geniet my grote se selfstandigheid meer en hy is minder moeite.
  • Soms het ‘n kind eienskappe van ‘n pa (veral na ‘n verhouding verbreek is) wat die ma herhinner aan al die negatiewe dinge en sukkel sy dus om met hierdie eienskappe saam te leef (bv hardkoppigheid).  Soms is die teenoorgestelde ook waar byvoorbeeld my seun herhinner my aan my pa vir wie ek baie lief is en kan daarom ook as gunsteling ervaar en behandel.
  • Geslag kan ook ‘n rol speel.  Mammas kan meer tyd saam het hul dogters op “vroumensdinge” spandeer en meer klere en snuisterye vir haar en “omdat daar net nie oulike goed vir seuns is nie”.  Dieselfde kan geld vir pappas en hul seuns.
  • Navorsing toon dat moeders hul eerste seun voortrek en pa’s is weer meer geheg aan hul jongste dogters.  Middelste kinders het die minste kans om ‘n gunsteling te wees.
  • Ouers is ook geneig om meer te hou van ‘n kind wat soortgelyke belangstellings en eienskappe as hulle het.  Hul verstaan mekaar beter en het dus ook meer in gemeen.  Net soos in ons vriendskappe en ander verhoudings, hou ons meer van mense wat dieselfde as ons is en ons belangstellings deel.
  • Ons eie issues kan ook n invloed hê op ons ouerskapstyle bvoorbeeld mamma kon as jong kind gevoel het haar boetie word voorgetrek en probeer nou onbewustelik meer opkom vir haar dogter wanneer dit nie regtig nodig is nie.

 

  

Wat om te doen as jy ‘n gunsteling kind het?

 

  • Die eerste stap vir enige ouer is om te erken dat jy wel ‘n gunsteling kind het.  Moenie verlore raak in jou skuldgevoelens nie, maar maak ‘n bewustelike besluit om vir elke kind ewe veel te prober gee.
  • Maak ‘n punt daarvan om met al jou kinders ewe veel tyd te spandeer – volgens HULLE belangstellings en nie joune nie!
  • Fokus op elke kind se positiewe eienskappe, dit kan die dinamiek in die gesin verander en vereis net bietjie oefening.
  • Hou jou liggaamstaal dop!  Jy sal byvoorbeeld sagter en meer tegemoetkomend lyk teenoor een kind en meer geirriteerd voorkom met die ander.
  • As een kind voel of noem dat ‘n ander voorgetrek word, ondersoek jou optrede noukeurig en moenie jou kind se persepsie aflag nie.
  • Maak seker dat reels vir almal geld en dat almal dieselfde straf en voorregte ontvang.
  • Wat ons voel vir ons kinders (meer toegeneentheid teenoor een) maak nie soveel saak as wat jy DOEN daaromtrent nie.  Werk harder aan jou moeiliker verhouding.
  • Kry professionele hulp as jy sukkel.

 

Wat is die effek van voortrek op beide die witbroodjie en die nie-witbroodjie

 

Effek op die witbroodjie

 

  • Aangesien hul meesal sag behandel is, kan hul soms sukkel om in die harde grootmenswêreld aan te pas.
  • Hul sukkel dikwels om hulself te bewys in die werksomgewing.
  • Hul kan ook ‘n dun velletjie teen kritiek ontwikkel en dan maklik seerkry en weet dikwels nie hoe om dit te hanteer nie.
  • Hul kan ook die verwagting hê om in beide die werksplek en hul verhoudings ook hul sin te ontvang.
  • Hul kan sukkel om binne intieme verhoudings aangesien hul maat hul nooit so lief kan hê soos wat hul gewoond is of verwag nie.
  • Hul ervaar ook konstante wedywering en kompetisie van broers en susters en soms ook openlike vyandigheid wat die witbroodjie geisoleerd en ongelukkig kan laat voel.
  • Erge skuldgevoelens oor die voortrekkery kan hul hele lewe lank ‘n invloed op hul funksionering hê.
  • Dit word soms baie moeilik om aan ouers se verwagtinge to voldoen en kan hul dikwels oormatige druk of ‘n gevoel van mislukking ervaar.
  • Soms het hul ook soveel tyd spandeer om hul ouers te behaag dat hul nooit hul eie persoonlikheid kon ontwikkel nie.

 

Positiewe effek?

 

  • Die gunsteling se sterk selfbeeld kan natuurlik deure vir hom/haar oopmaak en hul kan gevoel openbaar van “ek kan enigiets regkry”.

 

Effek op die nie-witbroodjie

 

  • Die witbroodjie se broers en susters sal meer dikwels woede en verbittering voel teenoor die ouer sowel as teenoor die witbroodjie
  • Hul wei ook hul hele lewe om validering van ander mense te kry.  Erkenning is hul grootste behoefte.
  • Hul selfbeeld word verseker negatief geaffekteer.
  • Hul vind dit dikwels moeilik om as grootmense intieme verhoudings te handhaaf sonder die vrees vir teleurstelling of verwerping.
  • Die nie-witbroodjie kan ook die uitgangspunt handhaaf van “dit maak nie saak hoe hard ek prober nie, dit sal nooit genoeg wees nie”.  Laasgenoemde kan ook hul werksetiek beinvloed.
  • Hul kan angstigheid, depressie en gedragsprobleme ontwikkel.

 

Positiewe effek?

 

  • Omdat hul nie gefokus het om hul ouers konstant te behaag nie, was hul dikwels vry om hul eie persoonlikhede te ontwikkel en om dinge te prober.

 

Wat moet kinders doen as voortrekkery plaasvind?

 

  • Beide die gunsteling en nie-gunsteling moet dit onder die ouer se aandag probeer bring.
  • Indien nie suksesvol, probeer met iemand onafhanliks (soos sielkundige of berader) gesels.
  • Aanvaar dat die ouers se intensie nie negatief is nie.  Hul kom dikwels nie eers agter dat hul dit doen nie en sal bitter min opsetlik ‘n kind probeer skade aanrig.
  • Aanvaar dat dit ‘n natuurlike verskynsel is, dit is nie abnormaal nie en het te doen met verskeie genetiese en omgewingsfaktore.
  • Waak teen vyandigheid teenoor die kind wat voorgetrek/nie voorgetrek word nie.
  • Moenie laat jul ouers se gedrag jul verhouding benadeel nie.
  • Weet dis vir altwee groepe moeilik.
  • Probeer jou eie persoonlikheid so ver as moontlik ontwikkel en moenie konstant fokus op die aanvaarding/nie aanvaarding van jou ouers nie.
  • Hou op om jou ouer of broer/suster te blameer vir die swak keuses wat jy maak en maak jou eie drome waar!
  • Wees bedag op die effek van voortrekkery binne jou intieme verhouding en hanteer dit toepaslik.